Paar gedagtes

Ek sukkel vreeslik om my gedagtes en gevoelens op papier vas te lê Iets wat altyd vir my maklik was, is nou vir my amper onmoontlik. Ek lê in die bed en dink presies wat ek wil sê, maar sodra die leë stuk papier voor my lê, kan ek nie een woord uitkry nie. Ek onthou ek het ‘n paar jaar gelede ‘n pastoor gaan sien vir ‘n paar sielkundige sessies en omdat ek sukkel om te praat, het ek altyd voor die sessies vir haar ‘n e-pos gestuur en dan het ons dit bespreek. Sy het altyd gesê skryf en as jy nie meer weet wat om te skryf nie, hou aan skryf, want dit is wanneer die ware gevoelens deurkom.

Dalk is ‘n goeie plek om vandag te begin – treur!!

Wat is dit om te treur? Wat beteken dit om te treur? Wat is die korrekte manier om te treur?

Ek bly in ‘n huis waar beide ek en my man ‘n ouer aan die dood afgestaan het in ‘n kwessie van net meer as ‘n maand. Hy sy ma ek my pa. Tog treur ons verskillend. Soms voel dit vir my asof hy die deur toegetrek het toe hy by die begrafnis gery het en dis verby. Sy bestaan nie meer vir hom nie, hy praat min van haar, maar hy toon geen emosie as dit by sy ma kom nie. Kersfees het hy en sy susters nie een hartseer geword omdat sy nie die dag daar kon wees nie. Hoe doen ‘n mens dit? Is dit die beter manier om te treur. Beweeg aan! Dit is deel van die lewe.

Ek kan nie die deur toemaak nie, ek wil ook nie die deur toemaak nie. Ek is steeds woedend vir die Here, want hoekom verhoor Hy nie ons gebede nie. Hy sê as julle dit in My naam vra, sal ek dit gee, maar ons het gebid en steeds het Hy geneem! Ek het soveel woede in my dat ek skree en baklei oor alles. Ek het vir vier maande nie geslaap nie. As ek slaap baklei in my slaap. Ek soek nie my man naby my nie. Ek wil nie soen nie, ek wil nie druk nie, soms wil ek nie eers gesels nie. Ek wil veel eerder net alleen wees. Dis moeilik, want daar is klein kindertjies wat hulle mamma nodig het, maar dis moeilik. Ek huil en dan huil ek vir dae glad nie en dan voel ek sleg dat ek nie huil nie. My verjaarsdag was net een groot tranedal en ek het geen mense om my gesoek nie!!

Die vraag bly – wat is reg – wat is verkeerd???

Dan wonder ek weer oor verjaarsdae??

Ek is nie een wat hou van my verjaarsdag nie en ek word onsaglik vies as mense nie kan aanvaar dat ek dit so verkies  nie. Hoekom moet mense oorkom? Hoekom moet mense ‘n koek bak? Los my alleen dit is al!

As dit by my kinders se verjaarsdae kom, maak ek dit ‘n groot dag, ‘n spesiale dag. Hulle moet weet ek is lief vir hulle en om daardie spesifieke dag moet hulle spesiaal voel! Die laaste paar jaar was finansies maar straf en kon ek nie helemal so groot gaan  nie, maar steeds probeer ek my bes. Ek doen onsaglik baie moeite om ‘n geskenkie te kies wat vir daardie kind iets sal beteken!

Hoe verduidelik ‘n mens aan ‘n kind dat mamma nie ‘n verjaarsdag wil hê nie, maar JOU verjaarsdag is spesiaal.

So bietjie van dubbel standaarde.

Agressie!!!

Hierdie is vir my ‘n vreeslike moeilik onderwerp om aan te raak. My pa was ‘n help, maar my pa was ‘n baie kwaai man toe hy jonk was en ook agressief. Ek was op my eie manier baie bang vir my pa. As ek vyf minute laat by die huis gekom het, sou ek eerder agter in die erf gaan wegkruip, want ek weet ek sou raas kry. Nee, my pa het ons NOOIT mishandel nie, maar jy het geweet as hy raas en as hy ‘n pakslae uitgedeel het, het jy dit baie goed onthou.

Van ‘n paar jaar gelede het ek hierdie vreeslike agressie begin ontwikkel, dit was na ‘n paar inbrake asook my egskeiding. Ek het gegaan vir sielkundige hulp wat tog in ‘n mate gewerk het, maar na my pa se dood het hierdie verskriklike agressie weer opgebou. Ek besef dit is verkeerd. Ek raak so kwaad dat dit voel asof ek fisies iemand kan doodmaak. Ek weet ‘n groot rede is geen slaap, maar die aande as ek  slaap, slaap ek ook nie rustig nie (volgens my man) vloek en skree ek tot terwyl ek slaap. Ek het nou by die een dame by my werk pilletjies gekry om my te help om bietjie beter te slaap, maar weet  nie of dit regtig help vir die agressie in my slaap nie, maar ek slaap darem al. By Dischem het ek ook nou bietjie kalmeerpilletjies gekry sodat ek net ‘n bietjie die gemoed stabiliseer.

Ten spyte van hierdie agressie voel dit soms asof ek nie kan asem kry nie, dit is kompleet asof my woede my versmoor en my hart klop so vinnig….soms slaan die sweet my uit. Dit gaan gewoonlik na ‘n rukkie weg.

Ek wil nie hê my kinders moet my onthou as hierdie ma wat permanent kwaad is nie!

Tog as ek aan my pa dink, dink ek nie net dat hy kwaai was nie. Ek onthou dat hy ons gefoeter het, maar hy het ons dissipline, maniere en respek geleer – sonder om permanent op ons te skree. As hy gepraat het, het ons geluister.

Ek smag daarna dat my man so kan wees. My man skree van oggend tot aand op die kinders, maar niemand luister na hom nie, want sy geskree dra geen gesag meer nie.

So waar trek ‘n mens weer daardie lyn?

Ek voel ‘n kind moet ‘n pakslae kry en NIE net met die plat hand nie. Ja, ek weet wat SA se wette sê, maar ek glo tugtig jou kinders, moenie mishandel nie. Om die hele dag net te skree kan net so maklik mishandelend wees as om ‘n kind met die vuis te slaan. Ek weet nie meer hoe om hierdie te hanteer nie.

Ek besef ek skree die laaste ruk baie, maar daarom het ek nou pilletjies gekry, maar ek weet wat die probleem is.

Hy sien nie dat hy net skree nie. Hy sien nie dat niemand vir hom luister nie!

Finansies

Dit is ‘n groot probleem in baie huishoudings vandag. Die lewe is duur, werk is skaars.

Ek sit weereens in ‘n huwelik waar omtrent alles van my salaris af kom. Ek kan dit ook nie meer hanteer nie. Ek voel dat ‘n man vir my gesin moet voorsien. My man het nie ‘n vaste werk nie en werk vir homself, maar in my opinie is die grootste probleem die feit dat hy nie met geld kan werk nie. So al kom daar geld in, betaal dit nie die dinge wat betaal moet word nie. Sodra ek vra of is die skool al betaal, sal ek ‘n antwoord kry: Waar moet ek geld kry?

Praat ek hieroor is dit een groot bakleiery.

Ek is moeg baklei oor dieselfde goed oor en oor en oor!

Ek is moeg om die huis aan die gang te moet hou!

Vertroue

Ek glo een en elkeen sal saamstem dat vertroue een van die belangrikste dinge in ‘n huwelik is. Nou hoe gemaak as jy elke woord wat jou man se in twyfel trek?

Het ek rede?

Dalk of dalk het ek nie!

Ek is ongelukkig ‘n persoon wat indien ek eenkeer uitgevind het dat jy vir my gelieg het ek jou nooit ooit weer ten volle sal kan vertou nie. Dis iets simpels en dalk gaan julle almal nou sê dat ek verkeerd is, maar hy het skelm gerook. My belowe dat hy ogpehou het, maar ek kan mos ruik. Ek het sover gegaan en ‘n PI gehuur om hom verkeerd te bewys omdat hy net aanhou lieg het ten spyte van hoeveel keer dat ek hom gekonfronteer het.

Daar is soveel klein dingetjies wat ek weet hy oor lieg en ek kan net nie so lewe nie!

Hoe bou ‘n mens weer daardie vertroue op?

Fisiese kontak

Hierdie is seker een van die moeiikste dinge in ‘n huwelik.

Ek wil nie vasgehou word nie, ek wil nie gesoen word nie, ek wil net alleen wees.

My man soek die heletyd aandag, vashou, soene en drukkies.

Ek voel ek moet heel eerste na myself kyk en myself gesond maak op hierdie stadium, want ek kan nie ‘n ma wees as ek nie gesond is nie. AS my siel nie gesond is nie.

Die enigste manier is om my spasie te gee!

Hoe bring mens hierdie twee wêrelde bymekaar?

 

Hierdie is sommer ‘n paar van my gedagtes!

Volgende keer gesels ons verder

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s