‘n Briefie vir my pa

My liewe pappa

Vandag raak ek stil…..

Vandag is die dag wat ek die bul by die horings pak en met pappa gesels. Ietsie wat ek nooit gedoen het nie. Ons het nooit hartsake gesels nie, ek het maar self my probleme uitsorteer.

Vandag wil ek pappa ‘n paar dinge vertel, miskien sal dit dinge makliker en duideliker maak.

Ek begin by ‘n moeilike saak. Jou pa! Hoe dra ‘n mens so iets oor aan enige iemand? Ek het reeds beraders gaan sien hieroor om in my eie gemoed vrede te kry, maar ek het nooit ooit kans gesien om die een ding te doen wat almal voorgestel het nie – vertel jou pa! Ek het net nooit die doel gesien om iets met jou te deel waaraan jy niks kan doen nie, hoekom iemand soveel seer veroorsaak. Ek onthou die pastoor berader het vir my so mooi verduidelik hoekom ek dit moet doen, maar nou kan ek dit nie eers meer onthou nie.

Waar begin ek – hoe sê ek dit nou vir jou?

As ‘n klein dogtertjie het ons mos gereeld by oupa en ouma gaan kuier. Dit was altyd lekker daar, maar nadat ek jare later groot geword het, het ek dinge onthou, dinge wat nie lekker was om te onthou nie. Dinge wat nie lekker was as ons by oupa en ouma gaan kuier het nie. Oupa het my by hom in sy bed laat lê in die oggende as ouma besig was om brood te bak. As ek by hom gelê het, het hy sy hand onder my klere ingesit en sy vingers in my ingedruk…dit was baie seer pappa. Ek het hom gevra om op te hou, maar hy het net gesê dit sal later beter word. Hy het my so lief en dit is hoekom hy dit met my doen en ek moenie die ander sê nie, want dan sal hulle net jaloers wees en lelik met my wees. As ek toilet toe gegaan het, want dit raak te seer, het hy my altyd aangejaag dat ek moet terugkom sodat hy kan aangaan met sy dinge…Ai pappa, hy het my so seergemaak, maar ek wou nooit hê jy moes hiervan weet nie. Wat sou dit tog help? Hy is al jare dood!!!

Vandag haat ek hom vir dit wat hy aan my gedoen het, maar pappa ek is nie kwaad vir jou nie. Jy het altyd net die goeie in mense raakgesien en jy kon nie weet wat hierdie vark in die stilte van sy slaapkamer aan my doen nie. Ek weet nie of hy dit ooit met enige van die ander niggies gedoen het nie, miskien het hy geweet ek is die stil en skaam een. Of het ek eers na dit stil en skaam geword?

Jare en jare het verbygegaan en ek het nooit onthou nie, maar eendag het ek gehoor wat hy aan sy dogter gedoen het en toe was ek al mooi groot, toe voel dit ewe skielik of elke oomblik in daardie slaapkamer so helder soos daglig is, elke oomblik.Die  reuk die pyn die hartseer….

Wat sê ‘n mens?

Dit is ‘n boek wat ek probeer toemaak, dis soms makliker as ander kere. Ek het nou self ‘n dogtertjie en dit is bitter moeilik om nie elke man te verdink nie, maar ek besef ook ek kan haar nie agv daarvan terughou nie! Ek probeer dit net agter my plaas, maar soms gesels mense van oupa asof hy hierdie wonderlike man was, dan voel ek ek wil opgooi, want hy was ‘n vark. Hy was ‘n vieslike man! Hy het sy dogter verkrag en sy kleindogter gemolesteer, ek is so bly Liewe Jesus het hom kom vat toe ek nog so klein was, want ek is seker hy sou meer as net gevat het as ek ‘n bietjie groter was…..

Die einde!!!

Ek dink terug aan my jare op skool en ek besef net ek en pappa was nooit na aan mekaar nie. Pappa was ‘n ongelooflike kwaai man en ek was vreeslik bang vir pappa. Alhoewel in die koue nagte het pappa die komberse so stuif teen ons ruggies ingedruk en ek onthou hoe warm my hartjie dan geword het. Ek weet vandag dat baie van die dinge my eie skuld was, want ek het nie reg opgetree nie. Ek was maar ‘n los poppie, maar ek dink vandag terug en besef dat ek altyd liefde gaan soek het. Liefde by ouer mans! Toe het dit vir my helemal reg gelyk en gevoel, maar vandag besef ek net hoe verkeerd dit was. Ek besef ook net dat pappa my net wou beskerm, want hulle wou almal net seks gehad het. Gelukkig kan ek sê dat almal nie daarmee weggekom het nie….

Jammer dat ek pa soveel gryshare op skool gegee het. Ek wens ek kon vandag teruggaan en baie dinge van my skooldae verander. Die belangrikste van als is om my pa se vertoue en respek te kry. Ek het altyd gedink my pa het my nie lief nie en gee nie vir my om nie, maar vandag besef ek dat my pa my ongelooflik baie liefgehad het en net opgetree het in my eie belang. Ek is so jammer pappa. Dankie vir dit wat pappa daardie jare vir my probeer doen het, maar ek het die hulp net teruggegooi na pappa toe. Jammer dat ek ‘n snotkop bogkind was wat gedink het ek weet als van die liefde en hierdie mans is almal lief vir my. Ek was so dom! Dankie dat pappa my al die seer wou spaar, maar ek het steeds gekies om ander kanse te vat, ander paaie te loop op ander plekke die verkeerde liefde te soek.

Gedurende sielkunde sessies het hulle eendag genoem dat dit soms gebeur dat meisies wat as jong kinders of dogters gemolesteer word in party gevalle baie vinniger en vroeër in hulle lewens seksueel aktief word en met seks eksperimenteer. Hulle seksuele hormone in hulle brein is op ‘n te vroeë ouderdom ge-“trigger” en daarom soek hulle op ‘n vroeër ouderdom antwoorde en plekke om hierdie dinge te verstaan. Ek weet nie of ek dalk een van daai gevalle was nie – dalk was ek maar net los!

Jammer pappa! Jammer as jy skaam was vir my! Ek hoop dat jy nie weet wat regtig agter al die toe deure gebeur het nie. Jammer my liefste pappa.

Gedurende my jare op Universiteit het ek ‘n wonderlike man ontmoet pappa. My droomman, my sielsgenoot pappa, maar die lewe het weereens draaie gemaak en ons twee se paaie het op die verkeerde tyd gekruis. Dalk was dit met ‘n doel so. Ek verstaan nie altyd hierdie nootlot ding so lekker nie. Ek weet net, dat daardie man altyd my hart sal besit, maak nie saak waar ek is nie.

Ek het getrou en die dag wat ek die eerste keer getroud is, het ek besef daardie dag ek maak ‘n fout, maar ek wou pappa nie teleurstel nie en het deurgedruk. Soms wens ek ek het daardie dag die moed gehad om weg te stap. Ek weet daardie dag sou baie baie mense seergekry het en sou baie mense teleurgestel gewees het en sou baie mense ‘n lekker skinderstorie gehad het, maar ek sou pappa nooit deur die vernedering van ‘n egskeiding gesit het nie. Jammer daaroor. Ek weet jy was lief vir hom soos jou eie seun. Julle het ‘n ongelooflik band gehad en jy het saam hom gestaan deur die egskeiding. Ek besef dat jy deur dinge gesien het. Ek weet ook dat jy in ‘n mate helemal reg was, maar pappa dit was regtig nie die enigste rede nie. ‘n Mens kan nie getroud bly aan iemand as jy geensins aangetrokke is tot daardie persoon nie. Is dit wat pappa sou wou hê? Is dit beter vir kinders om groot te word in ‘n huis waar daar geen huweliks-liefde-seksuele-band is nie? Is dit nie iets wat kids by hulle ouers moet leer nie? Pappa en mamma was ‘n perfekte huwelikspaar, iets wat ek nooit sal hê nie.

Nog nie eers ‘n jaar na my egskeiding nie, is ek weer in ‘n verhouding en word swanger en trou weer! En dit was vir my pappa ‘n diepe teleurstelling – WEER! Jammer pappa. Ek het pappa soveel seer en vernedering veroorsaak! Ek is so bitter jammer. Ek wens ek kon terug gaan na daardie tyd in my lewe, want ek sou verseker ‘n paar dinge anders gedoen het. Ek sou vir een nie so gou in ‘n verhouding ingestap het nie, want ek was nie emosioneel stabiel daarvoor nie. Ek het in ‘n huwelik in gestap terwyl ek getreur het oor my groot liefde. Vandag weet ek dit, want vandag besef ek weer ek sit in ‘n huwelik terwyl my hart vasgevang is in sy eie huwelik (ook nie gelukkig nie), maar ons moet maar die pad stap wat ons gekies het, ek ‘n tweede keer gekies het. Ek wens ek en pappa het ‘n verhouding gehad waar ek met pappa kon gesels, maar ek weet ek sukkel tot vandag toe om met enige iemand te praat. Skryf is maar nog altyd my ding. Ek skryf as ek kwaad is, ek skryf as ek hartseer is en ek skryf as ek gelukkig is. Kan pappa glo ek tik tot vir my man ‘n boodskap of e-pos as ek ongelukkig is oor iets, want ek weet nie hoe om te praat nie. Is dit dalk omdat ek altyd als onderdruk het in my jonger dae dat ek vandag steeds sukkel om te praat.

Ai, pappa ek wou nog so baie tyd saam jou deurgebring het. Ek wou nog ‘n paar glasies wyn gedrink het as jy jou biertjie geniet het. Ek wou nog ‘n keer saam jou langs die kinders se rugby en netbalwedstryde gestaan het. Ek wil jou nog net een keer op jou voorkop soen.

Pappa, ek is nie gereed om vir jou tot siens te sê nie. Hoe groet ‘n mens iemand wat deel van jou hart en siel is. Hoe los jy ‘n stukkie van jou siel en loop weg?

Die Here kies ons pad nog lank voor ons gebore is, maar ek sukkel om Sy pad die keer te aanvaar.

Pappa sou sê, beweeg aan, ‘n mens huil nie so lank nie. Die lewe gaan aan, maar hoe gaan ‘n mens aan as jou lewe sterf?

Ek wou net nog een keer vir pappa kan sê ek is lief vir pappa. Dankie vir die absolute wonder mens wat pappa was en altyd in my hart sal wees. Dankie dat pappa so ‘n streng ouer was en ons die waardes van die lewe geleer het. Pappa het vir ons Bybel gelees en gebid, maar pappa het ons nooit versmoor met die Bybel nie, want pappa het gewandel in die Woord. Pappa het getuig van liefde, pappa se lewe was ‘n toonbeeld van omgee, vergewensgesindheid en liefde vir jou naaste. Wow, hoeveelkeer is pappa nie leed aangedoen nie, aangeval en gekaap en steeds het pappa net die ander wang gedraai, steeds het pappa net die goeie mense raakgesien. Dankie vir daardie voorbeeld.

Dankie dat pappa my ook geleer het dat ‘n mens uit jou eie foute moet raaksien en regmaak.

Ek gaan van nou af probeer om ook te leer uit my foute en beter te lewe, want ek weet dit is wat pappa sou wou hê.

Ek weet op hierdie stadium is my lewe ‘n redelike gemors en pappa sou dwarsdeur al hierdie dinge gesien het. Ek weet ek maak foute, maar ek maak nie alleen foute nie.

Sal pappa my help al is pappa ver? Kan pappa asb my help dat ek weer kan bid?

Ek mis pappa elke dag. As ek opstaan en as ek gaan slaap is pappa in my gedagtes. As die kids stout of soet is of seerkry wil ek so graag vir pappa vertel, maar ek kan nie. As ek goeie nuus kry of ‘n hoogtepunt in my werk bereik, wil ek pappa vertel. Ek weet pappa was trots op my werk en dat ek so hard werk.

Pappa, ek weet nie hoe om aan te gaan sonder jou nie. Pappa, op die stadium gebruik ek enige middel van ontsnapping en ek weet dit is nie reg nie, maar vergewe my asb. Ek het so seer in my hart dat ek soms voel iemand druk al die asem uit my uit – stukkie vir stukkie, maar ek gaan nie dood nie. Soms wil ek doodgaan om by jou te wees, maar ek het kindertjies wat baie klein is en nog nie hierdie ding van die dood so lekker verstaan nie. So ek moet nog ‘n rukkie hier bly, want ek weet as ek moet weggaan sal hulle hartjies ook seerkry.

Dankie dat pappa ons harte met soveel liefde en mooi nagelaat het dat ons pappa nooit ooit sal vergeet nie. Ons sal altyd pappa se voetspore wil volg, maar dit is ongelooflike groot skoene om vol te staan.

Pappa was my held, my hero en my alles.

Ek sal pappa altyd mis en altyd lief hê.

Dankie dat ek pappa se dogter kon wees.

Lief pappa tot oneindig einde kry.

Tot ons mekaar weer sien.

Al my liefde

xxxxxx

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Advertisements

8 thoughts on “‘n Briefie vir my pa

    1. Ja soms wens ek ek het dit vroeer gedoen, maar nou is dit op papier en uit my hart. Dalkies kan hy tog uit die hemel neerkyk en dit sien. Sterkte. En dankie. Dankie vir die blommetjie en die tyd wat jy gevat het om my briefie te lees.

      Like

  1. Jou briefie praat met my.
    Ek is ‘n Daddy’s girl. Op 52. Ek sien hom net elke jaar of 3, maar wanneer ek hom sien, kan ek maklik minute lank in sy arms staan, met my kop op sy skouer en hy omsingel my met sy mensvlerke. Nêrens in die wêreld voel ek só veilig, só geliefd en só aanvaar nie. Hy lewe nog. Ek dank God daarvoor.

    https://blogbb.wordpress.com/2010/07/25/a-heavenly-father/

    Dankie vir jou brief… ‘n Sweet sweet reminder, dat ons veels te min vir mekaar sê wat en hoe ons voel.

    Liked by 1 person

    1. Die waarste woorde is dat ‘n mens nooit besef hoe vinnig daardie tyd van jou af weggeneem kan word nie. Ons moet mekaar elke dag koester.
      Waardeer jou tyd saam met jou pa, ek sal wat wil gee om net nog een keer in my pa se arms te kan sit. Om net nog een keer die telefoon op te tel en sy stem te hoor.

      Liked by 1 person

    2. Sjoe ek het die link oopgemaak en gelees. Dis asof dit my eie pappa is wat daar beskryf is. My pa was ‘n wonderlike man!! Met sy begrafnis in die bedankings, was my woorde: ” Dankie aan ons Hemelse Vader dat HY ons gekies het om ons pappa se kinders te wees, dit is ‘n voorreg en ‘n eer!”

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s